Moet jy praat of stilbly as iets pla?

Loading player...
As jou maat iets doen wat jou pla, of iets wat jy voel verkeerd is, moet jy daaroor praat of eerder stilbly? Dit is ’n moeilike onderwerp wat Madeleen Steenkamp en Pulane Nel-Sekepe tydens Truth Thursday bespreek.

Dit kan dalk iets kleins wees wat jou irriteer. Jy besluit om dit liewer nie te noem nie, maar oor die jare bou die frustrasie op totdat dit op ’n dag uitbars. Dan verstaan jou maat glad nie waar dit vandaan kom nie, want jy het vir jare lank niks daaroor gesê nie.

Maar dit kan ook oor iets ernstiger gaan. Dalk die manier waarop jou maat met ’n ouma praat, en die slegte voorbeeld wat dit vir die kinders stel. Of dalk ’n drankprobleem wat al hoe meer handuit ruk. Wanneer is dit nodig om iets te sê, en hoe pak jy so ’n gesprek aan?

Madeleen verduidelik hoe belangrik dit is om ’n getuie tot jou maat se lewe te wees. As lewensmaats is ons daar om mekaar te ondersteun, te help en mekaar ook te herinner wanneer daar dinge is waaraan ons kan werk. Ons stap saam deur die lewe, en dit beteken dat ons mekaar die geleentheid moet gee om te leer, te groei en ’n beter weergawe van onsself te word.

Maar die manier waarop jy iets onder jou maat se aandag bring, kan ’n groot verskil aan die uitkoms maak. As jy aanvallend is en die probleem op jou maat se kop gooi, kan dit maklik daartoe lei dat die persoon verdedigend raak of terugkap. Dan gaan die gesprek waarskynlik nêrens heen nie.

Madeleen beklemtoon eerder die waarde van die ‘ek’-benadering in plaas van die ‘jy’-benadering. Met ander woorde, praat vanuit jou eie gevoelens en ervaring. Verduidelik hoe iets jou laat voel, eerder as om jou maat te beskuldig of te veroordeel. ’n Sagter benadering kan help dat jou maat werklik hoor wat jy probeer sê, sonder om dadelik in ’n verdedigingsposisie te gaan.

Want uiteindelik gaan dit nie daaroor om jou maat te kritiseer of te probeer verander nie, maar om daar vir mekaar te wees – ook wanneer dit nodig is om moeilike dinge te bespreek.
30 Oct Afrikaans South Africa Leisure · Personal Journals

Other recent episodes

Hoeveel 'baggage' sleep jy saam na jou volgende verhouding?

Madeleen Steenkamp, kliniese sielkundige van Bloemfontein wat in verhoudings spesialiseer, gesels met Pulane Nel-Sekepe oor ’n onderwerp wat al dikwels in gesprekke oor nuwe verhoudings opduik: daardie sogenaamde “baggage” wat ’n mens uit ’n vorige verhouding kan saamdra. Maar hoe weet jy of jy nog emosionele seer uit die verlede…
28 Oct 8 min

Moenie ophou om 'kêrel en meisie' te wees wanneer julle ouers word nie

Hoe beïnvloed kinders ’n verhouding of huwelik? Dit is die vraag wat Pulane Nel-Sekepe aan verhoudingskenner en kliniese sielkundige Madeleen Steenkamp stel in dié gesprek. Madeleen beklemtoon hoe belangrik dit is dat paartjies nie toelaat dat hul identiteit as pappa en mamma hul verhouding as kêrel en meisie heeltemal oorneem…
27 Oct 7 min

Emosionele vs Fisiese behoeftes

"Hy sorg vir haar hart – sy sorg vir sy lyf" Wyse woorde van Madeleen Steenkamp tydens haar gesprek met Pulane Nel-Sekepe in dié episode van Truth Thursday. Madeleen verduidelik hoe mans fisiese aanraking dikwels as ’n uitdrukking van liefde ervaar, terwyl vroue se behoefte aan emosionele verbinding soms eerste…
26 Oct 6 min

Menopouse – ’n nuwe fase wat begrip en ondersteuning vra

Pulane Nel-Sekepe vra vir Madeleen Steenkamp om ons meer te vertel oor menopouse – ’n natuurlike, maar dikwels uitdagende fase waardeur baie vroue gaan. Hoewel sommige vroue min simptome ervaar en ander dit baie intens beleef, is een ding seker: hormoonveranderinge kan ’n groot invloed hê, nie net op ’n…
8 Sep 7 min

Openbare liefkosing: Wat is die regte hoeveelheid?

Pulane en Madeleen gesels oor openbare liefkosings, meer algemeen bekend as PDA (Public Display of Affection). Madeleen verduidelik dat daar nie noodwendig ’n reg of verkeerd is wanneer dit by openbare liefdesbetuigings kom nie. Elke paartjie moet eerder hul eie unieke middeweg vind wat vir hulle albei werk. Dit is…
8 Sep 6 min