Mense gewaarsku teen gebruik van Ivermektien

Die Suid-Afrikaanse verskaffer van dieregesondheidsprodukte, Afrivet, het mense gewaarsku om nie die parasietdoder, Ivermektien, te gebruik as ‘n voorkomende of genesende behandeling vir COVID-19 nie. Dit kom nadat die internasionale debat oor die doeltreffendheid van die middel teen die siekte einde verlede jaar plaaslike oewers bereik het. Die Uitvoerende Hoof van Afrivet, Peter Oberem, sê Suid-Afrika se Ivermektien-produkte is nie as menslike medisyne geregistreer nie en is getoets vir veiligheid in diere, nie mense nie. Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte se Boitumelo Semete-Makokotela sê nog kliniese toetse moet uitgevoer word voordat hul verseker is dat die medisyne veilig en effektief is om Covid-19 te behandel.