RSG Landbou 2 Oktober 2021

Navorsing wat Afrika se stapelvoedselsoorte voedsamer en verdraagsamer teen klimaatsverandering maak, het die afgelope dekades gevorder danksy samewerking tussen die Universiteit van die Vrystaat en navorsers oor die vasteland heen. Dit het nie net gelei tot nuwe kultivars nie, maar lewer ook ‘n betekenisvolle bydrae om toestande soos blindheid weens ’n tekort aan vitamien A te help voorkom. Prof. Maryke Labuschagne, hoof van die Nasionale Navorsingstigting se Suid-Afrikaanse leerstoelinisiatief vir siekteweerstand en gehalte in akkerbougewasse aan die Universiteit van die Vrystaat, werk tans saam met meer as 20 PhD-studente en postdoktorale genote elders in Afrika.