RSG Landbou 10 September 2021

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sê rooibos is een van die Wes-Kaap se mees ikoniese produkte, en die insluiting daarvan op die Europese Kommissie se register vir beskermde aanduiding van oorsprong is ’n aanduiding van sy unieke eienskappe. Dit laat die bedryf ook toe om die EU-handelsmerk op sy verpakking aan te dui, wat sal aandui dat dit ’n unieke, eksklusiewe produk is. Hy sê dit skep beter bemarkingsgeleenthede in die EU vir die bedryf. Die rooibosbedryf voorsien werk en inkomste aan sowat 8 000 mense. Meyer sê die EU se besluit bied ’n geleentheid vir die rooibosbedryf om te groei. Marthane Swart van die SA Rooibosraad en Direkteur van Besigheidsontwikkeling en Strategie by die Wes-Kaapse Department van Landbou, dr. Dirk Troskie, sluit by ons aan om die voordele van die insluiting te bespreek.